Op Donderdag 26 Julie het die D.16A en B-span die geleentheid gehad om teen die toerspan van Newcastle van Engeland te speel. Die skool waar hierdie spelers skoolgaan dateer reeds vanaf die 1500’s!

Alhoewel die tellings nie in Strand se guns was nie, was dit ‘n lekker ervaring om teen totale vreemdelinge te speel. Die besoekende spanne was grootliks onder 17 en 18 – so daar was ‘n rede waarom die Strand-spelers lekker moes bontstaan.

Zani Wilmot  en Caitlin Isaacs het vir die A-span doele aangeteken.

Na die wedstryde het die spanne lekker in die Kindertrustsentrum saamgekuier en gesmul aan regte Suid-Afrikaanse hoenderpastei en koeksisters. Die twee spanne het ook geskenkies uitgeruil – om ietsie van die dag as herinnering saam  te neem. Heel gou moes daar weer afskeid geneem word, aangesien die span moes gaan inpak om die volgende dag terug Engeland toe te vlieg.