Die netbal-, tennis- en muurbalafrigters en ouers sowel as die organiseerders, redaksielede en hul ouers van die Suidooster het op Woensdagaand 9 Mei ‘n genotvolle aand aangebied.

Die briljante gasheer, Pedro Kruger, van die gewilde musiekprogram, wat top Suid-Afrikaanse kunstenaars se unieke lewensverhale, passies en musiekloopbane met gehore deel, het ons laat skater, huil en ook laat saam sing. Pedro is ook ‘n gesoute akteur, ‘n uitsonderlike komponis, sanger en ’n bobaas storieverteller, alles in een borrelende persoonlikheid verpak!

Tydens Pedro se optrede het hy ‘n asembenewende musiekreis van sy eie lewe en ‘n loopbaan wat reeds oor drie dekades strek aan die Ma’s en dogters vertoon. Vanaf sy professionele buiging op die ouderdom van 15, in ‘n verhoogverwerking van Fiela se Kind, na intieme kykies na klavierkuiers as seun saam met sy eie gesin, tot by internasionale optredes in wêreldstede soos Edinburgh en New York!

Pedro is eenvoudig net Pedro. Sy talent, vriendelikheid en empatie laat hom rêrigwaar uitstaan. Wat fenominaal was, was die spesiale kykie in die wêreld en ‘n briljante blik op wat menswees regtig is, soos gedeel vanaf sy “gunsteling sitplek in die wêreld”: daai een agter die klawers van Hoërskool Strand se Ibach-klavier!

ʼn Opregte dankie aan al die ouers wat as gasvrouens opgetree het en met hulle talente en kreatiwiteit, hul tafels pragtig versier het. Aan al ons onderwysers wat ‘n bydrae met die reël van die aand gemaak het – julle is ware staatmakers, dankie daarvoor.baie dankie aan Adriaan Lambrechts wat die gaste met ‘n voordrag vermaak het – jy was skitterend.

ʼn Opregte dankie aan al die borge.

Foto’s van die geleentheid kan by www.lunchboxphotography.co.za bestel word.