Hoërskool Durbanville het Vrydagaand by die openingsaand van Woordfees 2019 ‘n debuut produksie, Klinkklaar klanke, opgevoer. Die produksie het bestaan uit aweregse Suid-Afrikaanse musiek met klassieke kinkels. Liedere van kunstenaars soos Die Heuwels Fantasties, Deon Meiring, Koos du Plessis, Karen Zoid en Spoegwolf en TWEE is uitgevoer as koormusiek wat gebind is met vers- en blaasensemble-interludes, verwerk deur Kristi Boonzaaier. Die bindingsteks is deur Johan Rademan voorgedra.

Dit was `n viering van byderwetse nostalgie en `n musiekreis tussen die hede en verlede rondom temas soos Afrika, landskap, dieper denke en liefde.

Die geselskap het bestaan uit Hoërskool Durbanville se koor o.l.v. Maria Rademan-Viviers en Hoërskool Durbanville Blaasorkes o.l.v. Suretha Theron met oud-leerder band: Daneel Wasserfall(elektriese kitaar), Hugo Veldsman(baskitaar), Joganan Geldenhuys (perkussie) en Elmien Truter(klavier).

Maria Rademan-Viviers: “Dit is vir my so ‘n eer dat Woordfees geleenthede skep vir jongmense om op ‘n professionele vlak op te tree. Vir ‘n Hoërskool-produksie om voor ‘n stampvol Spier amfiteater op te tree is nie net vir my ‘n droom wat waar word nie, maar dit was ‘n wonderlike lewensverrykende ervaring vir die lede van die geselskap ook.

Dit was ‘n volwaardige Durbanville spanpoging wat ek vir die res van my lewe saam met my sal dra.”