Anso Kemp, die bemarker van HS Strand het die naweek van 15-17 Junie as die skeidsregter by die semi-finaal en finaal van die Brutal Fruit-netbalreeks opgetree. Sy het in die een semi-finale wedstryd as  skeidsregter tussen Jaguars (Gauteng) en Flames (NWS) opgetree. Sy het ook die bronsmedalje-wedstryd  tussen Flames (NWS) en Crinums (Vrystaat) geblaas – ‘n fenominale wedstryd wat in ekstra tyd oorgeloop het.

Sy is ook genooi om in die volgende nasionale toernooie op te tree: die Pent Series in Windhoek,  Africa Qualifiers in Zambië en die Diamond Challenge. As gevolg van belangrike gebeure by die skool in daardie tyd, het sy hierdie uitnodigings van die hand gewys.

Sy gaan ook tydens die vakansie by die jaarlikse Nasionale Senior Kampioenskappe in Port Elizabeth as skeidsregter optree.

Die toppunt is egter die volgende: Anso is genooi om as skeidsregter op te tree in die wedstryde tussen die twee topspanne van die wêreld –  Australië en Nieu-Seeland – in die Constellation Cup. Hierdie wedstryde vind vanaf 7-18 Oktober 2018 by die Claude Lands Arena, Hamilton en TSB Bank Arena, Wellington plaas.

By hierdie wedstryde word van die skeidsregter verwag  dat alle vaardigheid en opleiding van die afgelope jare ingespan moet word om te midde van duisende toeskouers op volgepakte stadions die regte en blitsige oordeel te kan maak.

Voorwaar ‘n topprestasie waarop HS Strand met reg trots is!