Die idee is egter nie om die waarde te bestudeer nie, maar om diensbaarheid ʼn lewenswyse te maak. Ti Amo is ʼn toonbeeld van hoe ons leerders ʼn verskil in die gemeenskap kan maak deur diensbaar te wees. Die weeklikse huiswerkklasse by Morkels Cottage waar ons leerders help, voeg waarde toe tot ander kinders se lewens, maar ook in ons eie leerders se lewens. Ons het oorweldigende positiewe terugvoer ontvang van Van Niekerk-Benadéhof, na ons leerders se besoek waartydens hulle die bejaardes se hande versorg het. Ons bejaardes hunker na kontak met jongmense en dis verblydend dat ons leerders tyd maak om ons bejaardes te besoek.